die dag toe ek iets in die bos teëgekom het (of: Pan Silvanus in ‘n wit frokkie)

Ek besluit een Saterdag, vroeg in die somer nog voor die regte swaar reënseisoen begin, om te gaan bergklim.

Korea is ‘n land wat feitlik uitsluitlik uit berge en heuwels bestaan. Ek self woon op ‘n klein maar geniepsige heuweltjie, wat ek elke aand teen wil en dank moet uitklim as ek van die werk af kom. My heuwel is egter met ‘n onaansienlike kors van woonstelblokke, kantoorgeboue en teer oordek. Al is ek op daardie stadium nog net ‘n paar weke in Korea smag ek reeds na die bos.

Ek soek dus op my kaart na die naaste onbeboude berg (’n san [산] in Koreaans).

En Saterdagoggend, taamlik vroeg, trek ek my tekkies aan en klim op ‘n bus na Cheongmyeongsan.

Dit is ‘n grys en reënerige oggend, maar ek het nog altyd ‘n voorliefde gehad daarvoor om in die reën te stap. Die bus neem my verby die middelpunt van die buurt waar ek bly, waar ek net ‘n paar dae tevore by die department van immigrasie was om aansoek te doen vir my verblyfkaart. Van dié petalje vertel ek wel in ‘n ander skrywe.

Ek klim van die bus af by ‘n halte in die groot straat. As mens in ‘n noordelike rigting daarmee aanhou kom jy weldra by die snelweg uit wat verder noord na Seoel gaan. Toe ek met die zebrastrepe oor die pad stap, in die rigting van die berg wat ek bo die omliggende woonstelgeboue kan sien uittroon, besef ek dat ek vergeet het om die oggend ontbyt te eet. Gelukkig is daar omtrent op elke hoek ‘n kafee en ek koop vir my ‘n toebroodjie. Ek besef ook dat ek geen water saamgebring het nie, so ek koop ‘n botteltjie water ook.

Met my proviand gewapen, kies ek koers berg-op.

Die klim is styl, op ‘n paadjie wat hier en daar met houttrappies stewiger gemaak is. Op sommige plekke is daar ‘n dik gevlegte tou langs die voetpaadjie gespan, waaraan mens kan klou in die hoop dat jy nie jou balans sal verloor en in verskeie stukke aan die voet van Cheonmyeongsan opeindig nie. Dit reën nie hard nie, maar die fyn reën val op die blaredak bo die voetpaadjie, vergader daar en plons elke kort-kort in vet druppels neer. Op een of ander wonderbaarlike wyse altyd juis só dat dit mooi in jou kraag beland.

Ek rits my reënbaadjie oop sodat ek nog meer van die druppels op my vel kan voel. Die ruising van die wind in die blare en die vars reuk van nat grond is soos suurstof, na die knel van grys beton.

Omtrent halfpad teen die berg op is daar ‘n houtbruggie wat oor ‘n kloof loop. Aan die ander kant sien ek ‘n swaaibank met ‘n dakkie oor, ook van hout gemaak. Ek besluit om daar te gaan sit en my toebroodjie te eet. Ek gee self nie om om nat te word nie, maar ‘n natgereënde broodjie is darem nou nie iets wat mens as plesierig kan beskryf nie.

Terwyl ek op die swaaibankie sit en oor die welige groen klofie uitkyk, sien ek vir die eerste keer ‘n ander stapper. ‘n Ouerige vrou, rietskraal met ‘n skelgeel sambreeltjie in haar eelterige hand, kom fluks teen die trappies opgestap wat my oomblikke gelede nog laat hyg het. Sy is verby die bruggie en op teen die berg uit, buite sig, voor ek nog my hap klaargekou het.

Toe ek klaar geëet het klim ek ook verder teen die berg uit, heelwat stadiger as die dame met die geel sambreel.

Dit raak al hoe styler hoe verder ek gaan, en dit reën ook nou swaarder. Ek begin eensklaps wonder of ek nie besonder dom was om in nat weer ‘n onbekende berg te probeer uitklim nie. Wat as ek op ‘n nat klip gly en my keduks val? Of ‘n been breek?

Om die volgende draai sien ek egter dat die bopunt van die berg net ongeveer vyftig meter verder is. Ek klim dus verder, baie stadig en versigtig, my hand pal op die natgereënde tou wat langs die paadjie gespan is.

Op die bopunt van die berg is dit doodstil, buiten vir die reën wat nog aanhoudend teen die blare ritsel en deurdrup in die modder. ‘n Nou voetpaadjie kronkel na albei kante, verdwyn na albei kante in die mistige grouheid tussen hoë bome. Ek is nie presies seker waarheen om te gaan nie, maar ek sien ‘n bordjie wat wys dat die eintlik hoogste punt van die berg na regs lê.

Ek stap dus aan, al met Cheongmyeongsan se kruin langs.

Daar is ‘n klein opdraande om uit te klim na die hoogste punt toe. Terwyl ek die laaste skof aanpak, doem daar ‘n paar eienaardige wit voorwerpe uit die mis op. Ek herken dit as die buitemuurse oefentoestelle, wat oorals in parke en langs riviere in Korea gevind kan word. Daar is ‘n paar toestelle wat mens jou arms mee kan oefen, ‘n paar vir bene, ‘n getiepte bankie waar mens jou voete by een punt kan inhak en dan opsitte doen, nog ‘n stasie waar daar ‘n snaakse soort skyf op die grond is en dan handvatsels wat ‘n mens vashou. As jy jou heupe vinnig heen en weer wikkel kan jy lekker jou maagspiere oefen. By hierdie spesifieke oefenplek is daar ook ‘n houtbankie met ‘n rusplek vir ‘n barbell aan die een punt.

Dit maak ‘n mooi prentjie in die mis, en ek stop ‘n oomblik om ‘n foto te neem.

Ek stap verder, en eers toe ek in die middel van die oopte kom sien ek die man in die wit frokkie raak.

Op die oog af is daar niks uitsonderlik aan hom nie.

Hy is besig om gewigte op die barbell te pak. Ouerig, miskien in die sestigs, maar sy kaal, neutbruin arms is wonderlik gespierd. Sy gryserige hare is aan die kant opgeskeer. Baie regop van houding, soos baie Koreaanse mans danksy die verpligte twee jaar in die weermag is.

My tekkies maak ‘n geluid op die nat blare. Die man kyk op.

Sy oë is ‘n ligte bruin. Katoë. Aan die punte van sy swaar wenkbroue is daar ‘n kroontjie elk, wat dit laat lyk asof die wenkbroue enige oomblik van sy voorkop af wil wegvlieg.

Ek buig en mompel ‘n beleefde ‘hallo’ in Koreaans. Die man antwoord nie. Hy kyk net vir my, iets spottend in sy oë. Die reën maak druppels op sy skouers.

Ek stap maar verby na waar ek ‘n uitkykpunt op die toppunt van die berg kan sien. Iets laat my voel of my blaaie wil hol trek, maar ek kyk nie om nie. Ahjeossis hou mos nie daarvan as jong bunders soos ek vir hulle staar nie.

Daar is natuurlik niks van die uitkykpunt af te sien nie, want die hele berg is van reën en mis omgewe.

Ek is eers van plan om verder oos te stap van die uitkykpunt af, sodat ek nie weer verby die eienaardige gespierde oom hoef te stap nie, maar die rigtingbordjie wys dat die roete etlike kilometers langer is as wat ek so pas gestap het. Dan eindig ek ook boonop in ‘n buurt wat ek glad nie ken nie.

Ek het dus geen keuse nie, ek moet maar omdraai en weer verby die man in die wit frokkie stap.

Ek kyk om.

Daar is g’n siel behalwe ek op die bergtop nie.

Ek stap eers nader, met die gedagte dat die man in die wit frokkie net na ‘n ander apparaat gegaan het en ek hom nie agter die bome kan sien nie.

Maar daar is niemand in die oopte nie. Die gewigte lê netjies langs die kaal barbell, asof niemand hulle ooit op hierdie koue, nat môre versteur het nie. Die reën klink skielik harder as tevore, my eie voetstappe luid in my eie ore.

Ek gaan die berg baie vinniger af as wat ek na bo gekom het.

Terug tussen die sussende moderniteit teer en woonstelblokke, terwyl ek langs die besige straat vir my bus wag, kan ek redeneer dat die man waarskynlik maar net op daardie oomblik klaargemaak het met sy oefensessie en hom toe vinnig uit die voete gemaak het. Miskien het ek verkeerd gesien, en was hy eintlik besig om die gewigplate af te haal in plaas daarvan om hulle op te sit. Miskien het hy ‘n draai tussen die bome gaan loop en het ek hom net nie raakgesien nie.

En miskien was hy ook maar net agter ‘n boom, op die foto wat ek van daardie oopte geneem het.

Nog artikels

1 Comment

  1. Wonderlik om hierdie geheimsinnige skets te lees nadat ek Korea kon besoek het. Land met baie skoonheid en baie raaisels.
    Lieflike boafoto – ek kan die reën voel en hoor drup.

Leave a Reply to Karin van Oostrum Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.