NOTA: Hierdie gedig is geskryf in die pens van die ondier, oftewel ongeveer die 9de week van ‘n Engelse module oor postmodernistiese, postkoloniale en twintigste-eeuse letterkunde.
Sewentien jaar of wat gelede
In ons dominee se kombuis
Gryp my suster ‘n oondhandskoen
Loop statig die lengte van die kombuis
Terwyl sy Mendelssohn neurie.
‘n Grap.
Maar nou is dit ek wat met
Geel plastiekhandskoene
My handpalms op die stoofplaat
Moet druk en hou
Die skrikbruid van kolonialisme en apartheid
En elke ander euwel moet probeer skei
Hoe lank moet ek nog my eie vleis
Ruik skroei of is die enigste einde
Van hierdie boetedoening om my
Arms en my voetsole en die sagte
Vel van my nek en elke ander sentimeter
Ook vas te druk tot ek
Geheel uitgeskroei is uit hierdie vel –
Wit soos iets wat ongesond en ondergronds
Slymerig begrawe was en vrot
Wit soos etter uit ‘n ontsteekte wond
Die sagte pensvel van ‘n padda
Die oorblyfsels van ‘n platgetrapte slak.
‘n Eindelose grap.
– 2020


Uitstekend geskryf! Ek kan my heeltemal hiermee vereenselwig en ek dink ek begryp redelik goed wat jy wil sê, aangesien ons daardie module saam ervaar het – ek skryf ervaar, want dis nie die soort module wat ‘n mens bloot “neem” nie; dis ‘n ervaring. Maar miskien is dit presies wat hulle wil hê dit moet wees. Net jammer die Postmoderniste het nog nie gehoor van genade of uitgevind wat vergifnis is nie. Genade hê en vergewe is waarskynlik heeltemal te moeilik, te onselfsugtig vir hulle, te swak, te mooi, te goed.