Die klapperknal van klein en groter swepe
Dawer oor die grasvelddal.
Kets hier teen die koppie en die berg.
Tref soms daardie net regte plek
Waar dit kan kanonskoot-eggo in die valleie weg.
Seuntjies in PT-broek en breërandhoed
Hier en daar ‘n paar Jonsson’s-gumbootstewels
En two-tone hemp
(die gekamoefleerde drymac baadjie lê by die tent sweepklap is sweterige werk).
‘n Dogtertjie met kaal moddervoete
Wat verwoed en ingewikkeld ewehandig sweepklap.
‘n Klein seuntjie leer met ‘n brandstreep
Oor sy gesig die les:
Dat geen man ‘n sweep moet opneem
As hy nie weet waddehel hy doen nie.

