Inleiding
Germanicus is ‘n Afrikaanse versdrama en toevallig ‘n kombinasie van twee van my gunsteling dinge – NP van Wyk Louw en Antieke Rome.
Die handel oor die Romeinse generaal Germanicus Julius Caesar (24 Mei v.C. – 10 Oktober 19 n.C.). Sy agnomen is aan die familie toegeken danksy sy vader se oorwinnings teen die opstandige Germane. Germanicus self het ook met groot sukses in Germanië veldslae gevoer het. Hy het daarmee ook wraak geneem vir een van die Rome se groot nederlae, die slag van Teutoburgwoud. Na ‘n triomfantelike terugkeer na Rome gaan Germanicus na Asië om daar ook groot sukses te ervaar. Hy is op ‘n jong ouderdom dood, miskien danksy verraad en vergiftiging.
Van Wyk Louw se drama begin naby die einde van Germanicus se veldslae in Germanië en eindig met sy dood in Antiochië. ‘n Sentrale deel van die drama, vir my, is die verhouding tussen Germanicus en Piso. Gnaeus Calpurnius Piso was in werklikheid die vermeende moordenaar van Germanicus, en is vir sy dood voor die hof gedaag. Van Wyk Louw neem die digterlike vryheid om Piso Germanicus se tweede-in-bevel te maak in sy Germaanse veldtog. Piso is voorbok van ‘n groepie wat Germanicus wil keiser maak en sy soldate daartoe opsteek. Hy is ‘n fanatieke Romein, Piso, verknog aan die idee van Rome, hartstogtelik pligsgetrou. Hy wil die ou Rome terughê, die keisiers uitroei. Germanicus, die jong man waarop Piso al sy hoop geplaas het, is egter ‘n denker en ‘n idealis. Plig, menslikheid en mag is belangrike temas wat op ‘n fassinerende manier ondersoek word.
Hier volg dan my gunsteling aanhalings uit Germanicus. Van hulle is mooi, van hulle is aangrypend, van hulle laat ‘n mens dink.
GERMANICUS:
Dié dolheid is aansteeklik; die hond byt,
en ék word dol, wat netnou nog sy baas was en redelik.
…
Julle-mense wil die wêreld besit;
besit eers julle hart in trou en tug.
Word yster, sweiswerk, aanmekaar gesmee
in tug – nie sand wat deur die vingers loop nie.
…
LUCIUS:
In hom [Germanicus] leef Rome weer: die erns, die eenvoud,
die trots ou eerbaarheid.
…
PISO:
Ons is die laaste troues van ons ras,
hierdie klein bende –
die laastes wat die republiek onthou.
…
Kom laat ons helder, giftig helder, dink.
…
Vannag stel nuwe eise. Ons bly trou.
…
LUCIUS:
Kom ons maak reg om gou en stil te sterwe.
…
PISO:
Lucius, as hy ook maar ‘n kneg
soos almal, soos ons bestes word?
LUCIUS:
Hy kan nie!
Hy’s te rein; die helder adel sit
in sy grys oë…
PISO:
Wat, oë? wat, gesig?
Laat die vroue heersreg uitdeel volgens oë.
En die gepeupel.
LUCIUS:
Maar hy’s soos glas so helder,
en wat ek sien, is waarder as die dink
wat altyd troebel, vuil, onseker is.
PISO:
Vir jou’s hy glas? Vir jou is hy ‘n spieël:
nooit sien jy deur – dis net jou beeld, jou jeug,
die weerglans van jou eie suiwerheid.
My Lucius, sou jy dit ooit kon leer:
die mens is ondeursigtig, vol bedrog,
vol vreemde lae in sy hart en brein.
Die stilte in hom, dié wat julle helder noem;
as ek kon weet, weet, hom kon oopskeur êrens
en in hom afloer, kyk, – dié stilte gryp
en uithaal, teen my oë hou en weet:
is dit siek onverskilligheid? of vrees?
die nugter ewewig van lus en vrees?
is dit die koue bloed van haai en hondvis?
wat sy tyd ken, wag? Dié rus, die stilte…
en daarna Caesar, koning? Dis sy erfreg.
Dán, Lucius?
Tiranne sterf…al bly die tirannie.
…
PISO:
Dis alles sag, dis botter-sag
waar ek my hand op ‘n Romein wil lê.
…
PISO:
Maar hou jou eie wil vas, en die vryheid,
en gee die dood vir die wat dit nie wil.
…
GERMANICUS:
Woorde kom soms so bloedig en so swaar
te voorskyn uit ‘n mens, nes kinders.
…
As’k my vrees sou toelaat
om een swart arm langs my deurkosyn
eers in te steek, sal dit my heel huis oopruk
en deur my kamers loop en skreeu.
…
GERMANICUS:
Dis dae soos vandag, maak ‘n bloedbroederskap
sterker as die troewel donker vog
wat kinders van een vader bind.
…
GERMANICUS:
Piso, vertel my: as jy instort in die slag
(jy’s altyd stil en nors met weinig woorde)
…kom daar ‘n vreugde? iets dronks, verskrikliks,
in jou? Wat sien jy as jy steek?
PISO:
Ek is Romein, soldaat en offisier.
Ek ken my plig en doen dit.
GERMANICUS:
Dis vreemd dat woorde so ‘n kors kan maak
rondom die hart. Nooit raak mens aan die lewe
wat fyn en bewerig soos ‘n kindjie sit nie,
êrens, êrens. Miskien is dit ook goed:
ons kan nie kaal-loop…nie almal nie, né, Piso?
…
THUSNELDA:
Dis mag, mag, die blinde dom swart mag
van ‘n groot ryk.
Maar luister, die wolwe huil,
die lang maer wolwe van die noorde huil!
Die dag sal kom dat hierdie grense yl word,
en dan sal ons, maar anders, Rome sien!
…
GERMANICUS:
Piso – my swaard: hy’s stil en skerp en trou
en hou sy raad geheim in hierdie skede;
neem hom en dra hom en vergeet hom nooit.
…
KEISER TIBERIUS:
Weet jy wat “eensaam” is?
My nagte is verskriklik. En die maan
ryg ‘n dun draadjie deur my brein…
…
Jy meen die heerser van ‘n Ryk is stil,
‘n kern, heerlik, salig:
die stil as roerloos in die roering.
So heers ‘n mens, so dom, so gruwelik!
…
Jy praat so graag van “mens”
en gru wanneer jy hoor wat die donker saad
van mens-wees is.
…
Die mens wil donker wees,
geslote in sy bloed, vol pyn, vol drang;
en hy sal nuwe smarte vind, verskriklik,
elk vir homself, die veles vir die stil
en enkele helderes soos wat jy is.
…
GERMANICUS:
Moet nie jou eie norsheid,
Piso, klee met die wye woord “Romeins”.
…
GERMANICUS:
Romein, Romein. Altyd dié woord met trots.
Vir jou is alles enkeld; en vir my
-dalk het ek dom geword – veelvuldig alles,
en eindeloos vol spel en moontlikheid.
PISO:
Ruk jou weer los. Kom tot die daad, die daad.
Dit is ons ras se krag.
…
PISO:
Een ding is waar: ons heers omdat ons groot is.
Ons ras was wreed en heilig op die aarde,
skoon, wreed en sterk. Ons is die wêreldsin,
ons gee sy wette. Ons maak die moontlikheid
dat ander volke lewe – dom en goor –
elkeen ontbinding en vernietiging
as hy alleen staan in homself; maar ons
bind hulle tot die dwang en tot die lewe.
Sterf ons, dan sterf hulle almal een-een later.
…
My stad wat op haar sewe heuwels lê
-die ewige, die ongelukkige, die heilige –
sy is die sigbare beeld van die groot ras
wat daar geskenk is aan die wêreld…
Jy moet haar reinig.
GERMANICUS:
Jy meen nog dat die wêreld wyd is, Piso;
dat jy self helder en eenvoudig is
en ou-Romeins. Maar glo my dit is eng,
dis om te stik, dit vat jou so – en jy,
jy spartel net soos ek in woorde en dink,
en rittel in die webbe van die eeu.
Die swart ekstases dans reeds in jou brien.
…
Piso, jy’s nie meer mens.
Jou dink is swart en giftig,
ek wens ek kon jou stil maak, stil en rustig,
en stadig weer die menslikheid laat groei,
êrens in jou.
…
GERMANICUS:
Ek was te helder.
‘n Mens die moet ook modderig wees
as jy wil mens-wees.
…
GERMANICUS:
Jy praat iets wat ek nie begryp nie, Piso.
PISO:
Begryp nie, ja begryp nie. Nooit begryp.
Nooit, nooit begryp met al jou helder sien.
Want “sien” is nie begryp, nie “gryp”, verstaan nie –
soos een mens aan ‘n ander gryp en het.
…
Jy was so groot dat elke roer van jou
skeure en slote rondom jou gebreek het;
en verstaan, verstaan jy nie?
dat selfs jou stilsit soos ‘n sawel was?
en daarom moet ons sterf.
…
O Germanicus, Germanicus,
jy weet nie hoe jy my verneder het
toe jy nie groot wou weees – toe jy … gewoon was.
want – my liefde’t jou verbind aan als
wat enkeld suiwer was.
…
Maar ek sal sterk wees en Germanicus
sal sterwe.
En ek sal sterf, en hierdie liefde sterf,
en al die pyn,
en ons groot ras sal doodloop in die sand,
en alles sal uitflikker, stadig, stadig…