{Twelfth Night} en die Goddelike komedie van die wêreldgeskiedenis

Twelfth Night was van kleins af my gunsteling Shakespeare-drama (Julius Caesar uitgesluit. Met Antieke Rome kan jy my in ‘n agterdogwekkende paneelwa met getinte vensters inlok). Ek weet nie presies hoekom nie. Heel aan die begin het die feit dat daar ‘n karakter met die van Belch is miskien ‘n groot rol gespeel. Klein dingetjies, sê hulle, vermaak klein breintjies.

Ten spyte van my liefde vir Twelfth Night en Shakespeare oor die algemeen, het ek dit sonder groot vreugde in ons leeslys vir die eerste semester van hierdie jaar opgemerk. Daar’s mos ‘n meisie wat soos ‘n ou aantrek en allerhande verwarrings met geslagtelikheid. Ek kon reeds in my geestesoog die nagmerrie van genderteorie sien wat sonder twyfel die lesings daaroor sou oorneem.

Ek was egter aangenaam verras. Die lesings was eintlik oor die drama en nie oor moderne ideologie nie. En dit was goeie **lesings, soos ‘n mens van Dr Lenahan kon verwag.

Twelfth Night poster

Ek wil nie graag in hierdie resensie dit wat ek in die lesings geleer het net reproduseer nie. Eerder wil ek dit op ‘n (hoop ek) interessante manier koppel aan ‘n paar ander idees wat nie noodwendig ooit by ‘n erg sekulêre universiteit plek kry nie.

Sinopsis (met spoilers? maar dis Shakespeare, ek is seker almal ken eintlik die storie)

Twelfth Night is een van Shakespeare se latere komedies. Dit speel af in die denkbeeldige land van Illyria. Viola, ‘n jong meisie, ly daar skipbreuk. Oortuig daarvan dat haar tweelingbroer verdrink het, vermom sy haarself as ‘n man om werk te kry aan die hof van die hertog van Illyria. Die hertog, Orsino, spandeer sy dae daaraan om die hand van ‘n treurende hertogin, Olivia, te probeer win. Aangesien sy manier van hofmaak hoofsaaklik daaruit bestaan om eenkant in ‘n hoekie te sit en hartseer liedjies te luister, terwyl hy bodes na Olivia se huis stuur met komplimente, is dit geen groot verrassing dat hy nie baie suksesvol is nie. Viola, in haar vermomming as Cesario, is ook een van die bodes wat vir Olivia heuning om die mond moet gaan smeer, en Olivia raak op “Cesario” verlief. Terselfdertyd raak Viola op hertog Orsino verlief.

Tussendeur is daar ook ‘n nar met die naam Feste, die guitige diensmeisie Maria, twee kêrels met die elegante vanne van Belch (heerlike pret vir agtjarige Katrina) en Aguecheek en ‘n poets op ‘n suurknol genaamd Malvolio wat die dra van kanariegeel kouse behels. En sonder om iets te verklap: Viola se broer is nie regtig dood nie, en daag net betyds op om die verwarring tussen Viola, Olivia en Orsino verder deurmekaar te skommel.

Shakespeare sê: liefde is lyding

As mens die romanse in Twelfth Night in een woord sou moet opsom, sou jy miskien “deurmekaar” moet kies. Orsino hou van Olivia, maar Olivia hou van Cesario wat eintlik glad nie Cesario is nie maar Viola, wat van Orsino hou, en dié dink ook sy’s ‘n man. Daar is misverstand op misverstand en deurmekaarspul op deurmekaarspul en sommige daarvan is minder snaaks as wat ‘n mens van ‘n komedie sou verwag.

Olivia (Helena Bonham Carter), Viola/Cesario (Imogen Stubbs) en Orsino (Toby Stephens) in die 1996 film.

Dit is nie snaaks vir Orsino en Olivia en Viola dat nie een van hulle in hulle liefde beantwoord word nie. Dit is donker en hartverskeurend. Shakespeare, in sy ewige behendigheid met die uitbeelding van mense, gebruik die eienaardige draaie wat die liefde neem om sy gehoor te vermaak, maar verloor nie die dieper pyn uit die oog nie. Hy gebruik beelde van verskeurende honde en aaklige, aansteeklike siektes en selfs die eensame dood om liefde mee te vergelyk. Onbeantwoorde liefde, spesifiek, want dit is tog die ander woord waarmee liefde in Twelfth Night opgesom kan word: onbeantwoord. Orsino hou van Olivia, maar Olivia hou nie van hom nie. Oliva hou van Cesario, maar Cesario hou nie van haar nie. Viola hou van Orsino, en ons weet reeds van wie hy hou.

Die redes vir hierdie gebroke, onbeantwoorde liefde is nie in elke instansie dieselfde nie. Orsino, kom ‘n mens agter, is nie regtig lief vir Olivia nie, maar eerder vir die idee van Olivia. Hy geniet ook miskien die pyn en drama van onbeantwoorde liefde meer as wat behoorlik is (Orsino is ‘n klassieke Petrarkaanse minnaar). Sy liefde is dus onbeantwoord omdat dit miskien net selfbeheptheid in ‘n digterlike sousie is. In Malvolio se storielyn, wat in ‘n seker mate ‘n eggo van Orsino s’n is, sien ons ook die selfsug en selfbeheptheid as ‘n bron van disfunksionele liefde.

Orsino, die dramatiese.

Olivia en Viola se onbeantwoorde liefdes het beide met leuens en valsheid te doen. Viola se vermomming as iemand wat sy nie is nie, verhoed nie net vir haar om ‘n verhouding met Orsino te hê nie, maar bring Olivia ook in ‘n posisie waar sy haar hart aan iemand gee wat daardie offer nooit sal kan aanvaar nie.

Dat hierdie selfsug en valsheid op ‘n manier ontknoop word en elkeen van hierdie karakters (buiten Malvolio) tog op die ou end beantwoorde, gesonde liefde vind, is byna ongelooflik.

Thalia en Melpomene – komedie en tragedie

Die groot genres waarin Shakespeare geskryf het, buiten vir sy historiese dramas, is tragedie en komedie. Dit is die ou genres, die antieke gesigte van die storie wat reeds in Griekse en Romeinse tye aan gehore bekend was. Oor die algemeen sou ‘n mens sê dat ‘n tragedie hartseer is en ‘n komedie snaaks, maar daar is dieper patrone wat die eintlike aard van hierdie twee genres bepaal.

Tragedie handel oor die individu, oor isolasie, die afsondering van die gemeenskap. ‘n Afsondering wat dikwels in dood en bloed eindig. Komedie is op verhoudings gefokus, die verbreking van isolasie, die integrasie met die gemeenskap. Daarom is komedies so dikwels ook romanties en eindig dit in ‘n huwelik – die diepste integrasie met ‘n ander mens wat daar bestaan. Humor en gelag is die instrument van gemeenskaplikheid – Dr Lenahan het uitgewys dat ‘n mens by uitstek gemaak is om saam met ander mense te lag. As ‘n ou net lukraak eenkant op sy eie sit en kier van die lag, dan loop mens gewoonlik ‘n wye draai om hom!

Twelfth Night is interessant omdat dit nie duidelik as slegs ‘n komedie gesien kan word nie. Daarvoor is die isolasie van die karakters in hulle selfsugtigheid en leuens te diep. Veral Malvolio, wat aan die einde nie die integrasie en gemeenskap van ‘n beantwoorde liefde vind nie, bring ‘n tragiese element na die drama wat nie lekker deur al die klugspeletjies verdoesel kan word nie.

Nigel Hawthorne as Malvolio.

Twelfth Night wys dus die inherente tragiese toestand van die mens, hoe dit deur gemeenskap opgelos kan word en ook hoe die onopgeloste isolasie uiteindelik tot totale verwerping lei.

Die Goddelike komedie (met apologie aan Dante)

Die geskiedenis van die wêreld, meen ek, is ‘n komedie. En ek sê dit nie net om snaaks te wees nie.

Daar is miskien tragiese elemente, soos Twelfth Night. Ook in ons menslike geskiedenis, na die val, sien ons die geweldige tragiese toestand van die mens. Ons word geïsoleer deur selfsug en leuens en baie ander sondes wat Shakespeare nie eens die tyd gehad het om in Twelfth Night uit te beeld nie. Geïsoleer in ons verhoudings met ander mense, soos Twelfth Night so goed wys, maar ook in ons verhouding met God. Ons het nie die Here lief nie, maar onsself, soos Orsino, of allerhande ander dinge wat net pyn in vermomming blyk te wees, soos Olivia. As ons in hierdie toestand bly sal ons stories ook, soos Malvolio s’n, in ‘n skrikwekkende tragedie eindig.

Maar die geskiedenis van die wêreld is op die ou end ‘n komedie. Ons word verlos van ons isolasie en dodelike tragedie deur gemeenskap met God. Ons harte word verander om God lief te hê en nie onsself nie. Om die nutteloosheid agter die vermommings van ons afgode raak te sien. Ons word nuut geklee in die regverdigheid van Christus, nie ‘n uitrusting wat die waarheid verbloem soos Viola s’n nie, maar ‘n uitrusting wat die eindelike waarheid ten toon stel.

Die wêreldgeskiedenis is ‘n wonderlike komedie want dit eindig ook, eendag, in die mees fantastiese Bruilof wat daar gehou sal word.

Nog artikels

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.