op negentien april laataand
word ‘n man in gangnam
dood aangetref suid van
die rivier
rivier han
dáárdie han, van wonderfaam
han. 한 [ha̠:n]
die iets in die koreaanse
psige onvertaalbaar
han wat bruis uit
joseon en 1910
en etlike millennia van buit wees en bordeel en vertrapte gras vir die groot olifante
han wat bloed wegspoel
van vryheidsvegters en van ‘50
han wat voorspoed smee
uit oorlogsrommel en brandarmoede
han wat vuis en middelvinger lig vir diktators
maar kniel met voorkop op die grond vir grootouers
han wat sewe jaar in afsondering studeer
vir die eksamen wat beesvleis op die kortpoot tafeltjie in die platteland kan sit
han wat opbruis tot ‘n koreaanse golf
hallyu.
han wat hoër altyd hoër, verder moet
tot jy alleen is op ‘n wolkekrabber se hoogste vloer
of effens dronk
vensters toe
brikette aansteek nie vir braaivleis nie.
op twintig april laataand
word ‘n man in gangnam
dood aangetref suid van
die rivier
rivier han.
(Image credits: 전쟁기념관,한국문화정보원, KOGL Type 1, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=109625003)