“Teer-en-veer, sambok en bedorwe eiers, selfs doodskiet”: Die Genootskap van Regte Afrikaners

Afrikaans, as kleuter, was niks meer as ‘n omgangstaal nie.

‘n Nederlands van soorte, ontwikkel en ingespan om as ‘n kommunikasiemiddel tussen die Nederlandse koloniste, hulle Maleise slawe en die inheemse Khoi-Khoin bevolking te dien. Daar was natuurlik ander Europeërs ook tussen-in, Duitse knegte, Franse vlugtelinge en so meer, wat ook op ‘n manier mee gekommunikeer moes word en op hulle beurt hulleself verstaanbaar moes maak.

Die mense het vroeë Afrikaans gepraat, maar diegene wat kon lees en skryf het dit in Nederlands gedoen. As dit nie vir die inspanning van etlike manne laat in die 19de eeu was nie, sou hierdie Kombuishollands nooit tot ‘n skryftaal ontwikkel het nie. Wat nog te sê van die kultuurtaal met ‘n eie wêreldklas letterkunde wat ons vandag kan geniet.

Hierdie manne, wat hulle die eerste maal toegewy het aan die stryd om die erkenning van Afrikaans, het bekend gestaan as die Genootskap van Regte Afrikaners (eers Afrikaanders).

Pannevis (Arnoldus) en die oploop na ‘n taalbeweging

Die arbeidsaamheid van die GRA, ook die Eerste Taalbeweging genoem, begin nie met die stigting van die GRA nie, maar met die briewe van ‘n ou met die naam Pannevis. Dit begin ook, soos baie taalgroei in Europese lande in die vroegmoderne era, met die begeerte om die Bybel te vertaal.

Genootskap van Regte Afrikaners
Die man homself, Arnoldus Pannevis.

Pannevis skryf in 1872 ‘n brief aan De Zuid Afrikaan waarin hy ‘n pleidooi lewer vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Hy wend hom sommer ‘n paar maande later in ‘n brief aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap waarin hy hulle vra om so ‘n vertaling te laat doen. Hy maak egter die fout om Afrikaans ‘n dialek te noem wat weens verwaarlosing van die oorsprongtaal ontstaan het, en die BBBG laat weet dat hulle nie geldigheid aan “brabbeltale” wil verleen deur Bybelvertalings daarin te laat doen nie. Hulle vra wel hulle verteenwoordiger in die Kaap, ene ds. Morgan, om die saak verder te ondersoek.

Hoewel hierdie brief van Pannevis klaarblyklik nie op veel uitloop nie, veroorsaak sy brief in De Zuid Afrikaan tog ‘n gesprek oor Afrikaans. CP Hoogenhout vra in 1873 in dieselfde koerant ook vir ‘n Afrikaanse Bybelvertaling. Iemand onder die skuilnaam Een Ware Afrikaander publiseer in 1874 drie artikels waarin hy met groot welslae die aanklag dat Afrikaans geen ware taal is nie weerlê. Hierdie Ware Afrikaander is in der waarheid ds. SJ du Toit, ‘n predikant van die Paarl. Hy is ook die man wat Pannevis, in sy brief aan die BBBG, voorgestel het as ‘n moontlike kandidaat om die eintlike vertaalwerk van die Bybel te doen.

Pannevis se brief aan die BBBG kom egter weer ter sprake in 1875, tydens ‘n vergadering van predikante te Wellington. Hoewel die meerderheid so ‘n poging afkeur, gesels ds. Morgan na die tyd met ds. du Toit. Du Toit beloof om die saak met ‘n paar ondersteuners van Afrikaans te bespreek.

Agt jollie kêrels van die GRA

Die beloofde gesprek vind plaas op 14 Augustus 1874, ‘n nare, winderige Saterdagmôre, volgens JC Steyn. In die voorhuis van die woning van Gideon Malherbe, in Pastorielaan, Paarl, kom agt jong mans bymekaar. Gideon Malherbe, Petrus Malherbe, August Ahrbeck, CP Hoogenhout, ds. SJ du Toit, SG du Toit en nie minder nie as twee DF du Toit’s. Buiten Ahrbeck en Hoogenhout was die res almal familie van mekaar. Meeste van hulle was ook in hulle twintigerjare, met uitsondering van Hoogenhout en Gideon Malherbe wat onderskeidelik 32 en 42 jaar oud was.

Malherbe se huis, nou die Afrikaanse Taalmusem

Met hierdie manne teenwoordig word die Genootskap van Regte Afrikaanders gestig. Hulle oogmerk is “om te staan ver [hul] Taal, [hul] Nasie, en [hul] Land”, en een van die vereistes vir lidwording is geloof in die versoeningsdood van Jesus Christus. Dit is dus nie net ‘n taalgenootskap nie, maar een met ‘n definitiewe patriotiese en Christelike karakter.

Die vertaling van die Bybel is die rede waarom die Genootskap van Regte Afrikaners gestig word, maar reeds by die eerste vergadering kom die GRA tot die besef dat dit nie dadelik die primêre doel kan word nie. Die volk sal eers gewoond gemaak moet word aan die idee dat hulle ‘n eie, behoorlike taal het, en dat Afrikaans nie sommer net ‘n afgewaterde Hollands is nie. Daarom begin hulle die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot.

“Daardie jong skoolmeestertjies en Dalse wynboertjies”

GR von Wielligh, aangehaal in JC Steyn se ‘Ons gaan ‘n taal maak’, skets ‘n oulike prentjie van die algemene publiek se reaksie teenoor die GRA-manne en hulle koerant.

“As iemand ‘n kringetjie mense langs die straat bymekaar sien staan, en een van hulle lees iets voor, wees dan maar verseker dat dit die Patriot is wat hy aan sy gehoor voorstel, terwyl sy toehoorders daaroor lag en met die taal daarvan spot.”

Ander reaksies teen die GRA was egter meer as net bespotting. Onderwysers en kinders is geboelie as hulle met die Patriot betrap is. Dit is as ‘n rebelse koerant beskou, en werknemers van die staat kon afgedank word as hulle intekening op die koerant ontdek word. ‘n Komplot is teen ds. du Toit gesmee – valse getuienis is gelewer dat hy op onsedelike wyse opgemerk is in die kamer van ‘n ongetroude jong dame. Die komplot het genadiglik nie geslaag nie. Von Williegh skryf ook dat daar gou gepraat is van “teer en veer, van sambok en bedorwe eiers, pap tamaties en selfs van doodskiet […] iets vernederends kon enige tyd op die lede gepleeg word”.

Ds. SJ du Toit as ‘n jong man.

Dit is dus geen verrassing dat die GRA aanvanklik hulle identiteite streng geheim gehou het nie. ‘n Voorwaarde van lidmaatskap was dat ‘n voornemende lid die name van hulle medelede streng geheim moes hou. Selfs al verlaat so ‘n lid die genootskap, sou daardie vereiste nog bly staan. Sommige kritici het die GRA om hierdie rede van duistere bedoelinge en selfs vrymesselary beskuldig. Du Toit het egter hierdie aanklag weerlê deur daarop te wys dat die Vrymesselaars hulle identiteite bekendmaak maar hulle dade wegsteek, terwyl die GRA juis die teenoorgestelde doen. Hy verdedig ook hierdie besluit uit Mattheus 5:16.

Die name van die lede het wel op ‘n stadium bekend geraak, maar die redakteur van Die Afrikaanse Patriot het tot en met die doodloop van die koerant slegs as “Oom Lokomotief” bekendgestaan. Die redaksie is aanvanklik deur CP Hoogenhout waargeneem, maar een van die DF du Toit’s – ds. du Toit se broer Daniël – word oor die algemeen met hierdie skuilnaam geassosieer. Hy was van 1878 tot 1891 die redakteur.

81000 Afrikaanse boeke

Ten spyte van al die teenstand het die GRA tog merkwaardige welslae behaal. Hulle het verskeie boeke uitgegee: ‘n geskiedenisboek, ‘n spraakkuns, versamelings gedigte, novelles, romans, en ‘n spel- en leesboek. Later het hulle ook die vertalings van drie Bybelboeke, gedoen deur ds. SJ du Toit, gepubliseer. Genesis het in 1893 verskyn, Mattheus in 1895 en Openbaring in 1898.

In JC Steyn se Tuiste in eie Taal skryf hy dat die firma DF du Toit & Co. teen 1895 reeds 81000 boeke in Afrikaans gedruk het.

Die grootste sukses van die Eerste Taalbeweging was egter Die Afrikaanse Patriot. Steyn skryf dat die oplaag van die koerant tussen 1876 en 1895 van 50 na 3000 gegroei het. Die sirkulasie van die Patriot was in die 1880’s reeds groter as die Hollandse koerante. Dit het blykbaar veral gewild geraak nadat die blad die kant van die Transvaalse Republiek gekies het in die Eerste Vryheidsoorlog, en openlik hulle ondersteuning laat hoor het.

Interessant genoeg het die GRA verder ‘n Afrikaanse skooltjie, die Hugenote-gedenkskool, gestig, asook ‘n politieke party, die Afrikanerbond, in 1879.

Die dood van ‘n taalbeweging

Die GRA en die Eerste Taalbeweging het grootliks doodgeloop as gevolg van die Engelse Oorlog. Eienaardig genoeg was een van die bydraende faktore die Engelsgesindheid van ds. SJ du Toit. Hy was erg teen Transvaal gekant, en het gemeen dat die republiek aan Brittanje se “regverdige” eise moet voldoen. Du Toit se anti-Transvaal-gesindheid het reeds in 1892 vir die Patriot ‘n groot verlies aan lesers beteken, toe die koerant sy steun aan Rhodes gegee het in sy konflik met die republieke. Die Patriot het in 1904 finaal sy deure gesluit.

Ten spyte van sy minder as glorieryke einde, het die Eerste Taalbeweging tog ‘n onmisbare invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad. Afrikaans het ‘n skryftaal geword, en ‘n taal wat deur die meeste Afrikaners as ‘n geldige moedertal aanvaar is. Die ywerige publisering en aktivisme van die Genootskap van Regte Afrikaners vir die taal het die basis geword waarop die Tweede Taalbeweging, vroeg in die 20ste eeu, hulle stryd kon voortsit en die “wonder van Afrikaans” kon laat gebeur.

Bronne

Steyn, JC. 1982. Tuiste in eie taal. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, JC. 2014. ‘Ons gaan ‘n taal maak’. Pretoria: Kraal.

Interessante skakels

Eerste beginsels van die Afrikaanse Taal (PDF)

Die Patriot se drukpers

Agt Jollie Kêrels – Randall Wicomb (‘n oulike liedjie!)


Hierdie artikel is deel van ‘n reeks “GRA-week” op Inkswaard. Klik gerus hier vir die volgende artikel in die reeks.

Nog artikels

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.