Die GRA se doel was om die Bybel in Afrikaans te vertaal, en om die volk vir so ‘n vertaling reg te kry het hulle hart en siel in die opbou van Afrikaans gewerp. CP Hoogenhout skryf in in 1873 dat dit “banja nodig” is om aan ‘n Afrikaanse Bybel vir die Afrikaanssprekende te dink.
In 1904, nadat slegs drie vertaalde Bybelboeke die lig gesien het, sterf Die Afrikaanse Patriot egter ‘n wurgdood. Daarmee saam sterf die GRA en die Eerste Taalbeweging, sonder dat hulle einddoel om God se Woord in die Afrikaner se moedertaal beskikbaar te maak bereik is.
Maar die 19de eeu bring nuwe geleenthede tot taalbevordering en nuwe boksers in die kryt vir Afrikaans.
Die “elektrisiteit” van Afrikaans
Aanvanklik is die tweede fase van die taalbeweging, opnuut aangeknoop ná die Tweede Vryheidsoorlog, ‘n opdraande stryd. Die Engelse administrasie se openlike doel was om die bevolking van die eertydse Boererepublieke so gou moontlik te verengels. “Barbarous language”, “hotchpotch taal” en “ox-wagon vernacular” is maar ‘n paar van die snedige maniere waarop die Afrikaanse taal beskryf is. CJ Langenhoven, in ‘n toespraak as eerstejaarstudent waaroor hy later terdeë berou gehad het, sê: “For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no literature and a very poor vocabulary.” Ten spyte van die GRA se werk en die jare waarin hulle aktief Afrikaans bevorder het, skyn die Afrikaanse taal weer al sy duurverdiende aansien te verloor het.
Maar daar is, soos reeds genoem, nuwe boksers in die kryt vir Afrikaans. Mense soos JBM Hertzog, Jannie de Waal, Gustav Preller, Eugene Marais, Jan Cilliers, Totius, CJ Langenhoven en ander manne van die nuutgestigte Afrikaanse Taalgenootskap. Die spasie ontbreek my om uitgebreid oor hierdie mense se arbeid te skryf, maar dit kan opgesom word in wat JC Steyn ‘n “elektrisiteit” vir Afrikaans noem.

Afrikaans word in 1914 as onderrigtaal in primêre skole toegelaat, en tussen 1916 en 1919 as die amptelike kanseltaal in Hollandse kerke dwarsdeur Suid-Afrika aanvaar. In 1923 word ‘n amptelike sinodebesluit geneem om die Bybel uit die oorspronklike brontale in Afrikaans te vertaal. Dit is nie hierdie keer agt jong, vurige mans in ‘n voorhuis in Pastorielaan nie. Daar is ‘n Breë Kommissie van Bybelvertaling, en voldoende fondse om twee voltydse vertalers aan te stel om hierdie groot taak aan te durf.
Mislukte pogings
Soos reeds voorheen genoem, is hierdie groot vertaling van die Bybel deur etlike ander pogings voorafgegaan. Buiten SJ du Toit se vertalings van sommige Bybelboeke (sommige bronne noem slegs drie, ander tot sewe wat uitgegee is) was daar ook in 1922 die uitgawe van die Vier Evangelies en Psalms. Dit was nie geslaagd nie, miskien omdat die vertaling nie uit die brontale gedoen is nie, maar uit die Nederlandse Statevertaling.
Dit is dalk juis dit wat die Breë Kommissie noop om ‘n vertaling uit die brontale aan te durf. Vir so ‘n vertaling kort ‘n mens natuurlik ‘n gekwalifiseerde vertaler.
‘n Man van vele woorde

‘n Mens kon vir geen beter kandidaat vra as ds. JD du Toit, ook bekend as Totius, nie. As seun van die groot gees van die GRA word hy as’t ware groot in die gees van die destydse Patriotmanne. Ds SJ du Toit werk nog tot sy dood onvermoeid aan die vertaling, en as seun in die huis sien en beleef Totius sy vader se toewyding en passie vir hierdie taak. So skryf VE D’Assonville in sy biografie van Totius.
D’Assonville wys ook daarop dat dit nie net Totius se familieverbintenis met die vertalingstaak is wat hom besonders maak nie. Hy is ‘n hoogs begaafde geleerde en skrywer, onderlê in nie minder as sewe tale nie: Hebreeus, Grieks, Duits, Latyn, Nederlands en natuurlik ook Afrikaans en Engels. Hy is dus nie net passievol nie, maar ook uitermate gekwalifiseerd vir die taak.

Totius word aangestel as een van die voltydse vertalers, en wel die een wat aan die Ou Testament moet werk. Hy werk, teruggetrek in die stilte van sy plaas Krugerskraal, soveel as 16 ure per dag aan die vertaling, met net enkele kort ruspouses.
Die ander vertalers
Totius, hoe begaafd ook al, is egter natuurlik nie alleen in sy vertalingstaak nie. Dr. BB Keet word oorspronklik opgedra om aan die Nuwe Testament te werk. Waar Totius dit egter maklik vind om van die GKSA verlof te kry om voltyds aan die vertaling te werk, ondervind Keet moeilikheid. Hy sou, op aandrang van die Kuratore van die Teologiese Seminarium, verplig wees om aan te hou met sy werk as dosent by Stellenbosch.

Prof JD Kestell word dus in Keet se plek as Nuwe Testament-vertaler benoem. Hy was blykbaar ‘n besondere knap en vinnige vertaler, en gevolglik vorder die vertaling van die Nuwe Testament ook goed ten spyte van die terugslae. Keet kry wel kans om ‘n bydrae te lewer wanneer hy Kestell met die talle hersienings van sy vertaling bystaan. Proff EE van Rooyen en HCM Fourie dra ook by tot die uiteindelike eindproduk.
Afrikaans se “hoogste triomf”
Die 1933-vertaling, die eerste volledige Bybelvertaling in Afrikaans, word uiteindelik op 29 Mei 1933 vrygestel. Daar is grootskaalse feesvieringe dwarsoor Suid-Afrika en selfs in die destydse Rhodesië. PJ Nienaber vertel hoe die aflewerings Bybels in Heilbron deur ‘n jubelende skare by die stasie in ontvangs geneem is en vandaar na die kerk begelei is. In byna elke dorpie en gemeente word die Bybel so met ope vreugde ontvang. Skaars dertig jaar gelede het dit gelyk of Afrikaans en die Boerevolk aan’t doodloop was – en nou was miskien die grootste stuk letterkunde van alle tye volledig daarin vertaal.
JC Steyn skryf in sy “Ons gaan ‘n taal maak” dat die Bybel miskien die grootste blitsverkoper is wat Afrikaans ooit geken het. Ten spyte van die depressiejare waarin dit die eerste keer verskyn, is daar binne nege maande na die uitgawe reeds 200000 eksemplare gedruk. ‘n 1000 Bybels per dag vlieg van die rakke. Die Afrikaner is dors vir God se Woord in sy eie taal. Tot in 2008, meld Steyn, is daar ongeveer 7 miljoen eksemplare van die Totius-vertaling gedruk.
Dit is dus geen verrassing dat hierdie vertaling, soos die King James vir Engels en die Lutherbibel vir Duits, iets groots vir Afrikaans beteken nie. Dit vestig die taal as ‘n kultuur- en literêre taal om mee rekening te hou. Soos met Shakespeare, kan baie Afrikaanse uitdrukkings na die 1933/53-vertaling teruggespeur word. “‘n Druppel in die emmer” en “‘n doring in die vlees” is maar enkeles van hulle.
Die vertaling van die Bybel, soos die GRA-manne soveel jare gelede miskien met reg gesien het, word dus die kroon van Afrikaans en ‘n mylpaal waardeur soveel kosbare letterkunde in later jare beïnvloed en geïnspireer word.
Bronne
D’Assonville, VE. 1993. Dit is Totius. Pretoria: Marnix.
Du Toit, JD. 1917. Ds. S.J. Du Toit in Weg en Werk. Paarl: Paarl Drukpers.
Hugo, D. (red.) 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.
Nienaber, PJ. 1934. Die Geskiedenis van die Afrikaanse Bybelvertaling. Kaapstad: Nasionale Pers.
Pienaar, EC. 1946. Die triomf van Afrikaans. Tweede hersiene druk. Kaapstad: Nasionale Pers.
Steyn, JC. 2014. ‘Ons gaan ʼn taal maak’. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Van Rensburg, C. 2012. So kry ons Afrikaans. Pretoria: LAPA Uitgewers.
Van Rooy, H. 2013. Die betekenis van die eerste Afrikaanse Bybel. Die Kerkblad. Augustus. 116 (3271):22-24.
Hierdie artikel is deel van ‘n reeks “GRA-week” op Inkswaard. Klik gerus hier vir die volgende artikel in die reeks.
[…] artikel is deel van ‘n reeks “GRA-week” op Inkswaard. Klik gerus hier vir die volgende artikel in die […]