Liewe familie en vriende
Ek skryf hierdie brief waar ek op my bed in my klein woonstelletjie in Suwon, Suid-Korea sit.
Bed is miskien ‘n ietwat optimistiese beskrywing. Ek slaap tans op ‘n matrasserige voorwerp, ongeveer twee meter lank en een meter breed. Dit is baie…stewig. Mens sou dit dalk selfs as hard kon beskryf, as ‘n mens geneig was om na die negatiewe kant van die lewe te kyk. Ek was aanvanklik skepties, maar my rug het tot op datum nog nie die gees gegee nie so ek gee maar die matrassie die voordeel van die twyfel. Maar waarom sit ek op my bed, wonder jy miskien? ‘n Stoel besit ek nie. Die Koreane het maar ‘n groot voorliefde daarvoor om op die vloer te sit, en daarom dink ek nie beskou hulle dit as ‘n noodsaaklike meubelstuk nie. Dus – ek sit op my bed en probeer vier weke se gedagtes in een brief aan julle inpas.
My reis na hierdie klein woonstelletjie, hoog op ‘n heuwel agter die Samsung-wolkekrabbers in Suwon, het begin op 16 April 2023, op OR Tambo Lughawe.
Miskien het die jare gelede al begin, voor ek universiteit toe is, toe ek vaagweg die plan gemaak het om oorsee te gaan Engels gee nadat ek my graad behaal het.
Miskien het dit begin to ek in my laaste jaar op universiteit ‘n belangstelling in Koreaanse musiek en TV-reekse ontwikkel het. Dit het my vae plan om oorsee te gaan Engels gee ‘n meer soliede vorm laat aanneem as ‘n plan om in Korea te gaan Engels gee. Miskien het dit begin met die ure se navorsing, of die maande se sukkel met dokumente, of toe ek die kontrak geteken het om in hierdie spesifieke stad by hierdie spesifiek skool te kom werk.
Miskien het dit ietwat vroeër op 16 April begin, toe ek totsiens gesê het vir die huis in ‘n stil straat in die Moot. Dáár het ek die eerste vyf-en-twintig jaar van my lewe ononderbroke gewoon.
Miskien, as mens nou regtig tot ‘n irriterende mate digterlik wil wees, kan mens sker sê dat die reis eintlik al vyf-en-twintig jaar gelede begin het. Elke oomblikkie in ‘n mens se lewe, elke keuse werk tog soos ‘n onsigbare draad om jou toekoms te spin.
Ek doen egter altyd my bes om nie tot ‘n irriterende mate digterlik te wees nie.
Dus – die reis begin 16 April op OR Tambo.
Dit begin vir my werklik toe ek van my gesin afskeid neem en deur die sekuriteitshekke stap om op die vliegtuig te klim.
Ek glo nie daar is enige skande daarin om te erken dat ek op daardie oomblik ‘n paar trane stort nie. Dit is tog natuurlik, as mens pas afskeid geneem het van die mense en die huis en die stad en die land wat jy vir vyf-en-twintig jaar as vanselfsprekend aanvaar het. In ‘n sekere mate voel dit amper asof jy van jouself afskeid neem. Jy is skielik buite konteks. Jy begin wonder of jy dan ooit regtig iemand was. Of net ‘n sameflansing van alles rondom jou wat jy, vanweë die verskriklike bekendheid daarvan, nooit regtig raakgesien het nie en maar net as ‘n deel van jouself beskou het.
Ek is wel ‘n bietjie skaam om te erken dat ek, die oomblik toe ek deur die doane is, skielik die byna oorweldigende begeerte kry om net daar om te vleig en die hele storie te laat vaar nie. En dat daardie begeerte aan my kleef soos ‘n klitsgras aan die sokkie, deur die instaphek, deur twee internasionale vlugte, oor twee kontinente en sewe tydsones. Selfs hier, op my harde matras in my klein skoenbokswoonstelletjie in Suwon, Suid-Korea, het ek nog altyd ‘n effens begeerte om net hier om te vlieg en terug te gaan na die ou bekende plekke.
Dit is vir my eienaardig, want ek geniet Korea verskriklik baie. Ek het in hierdie vier weke al wonderlike ondervindings gehad. Ek het nuwe kosse probeer, ‘n fort met ‘n fassinerende geskiedenis besoek, plesierige tye saam met my kollegas by die werk gehad, my siek gelag vir my klein Engels-leerlingetjies se grappies. Boonop is ek by ‘n nuwe gemeente met ope arms deur my broers en susters in Christus ontvang.
Waarom dan hierdie stukkie klitsgras wat nog aan my sokkie klou? Waarom die begeerte om tog liewer maar net terug te gaan na die goeie ou bekende plekke?
Seneca vaar in een van sy briewe taamlik uit teen die gedagte dat ‘n mens jouself kan verander deur na nuwe plekke te reis. Jy neem tog altyd jouself saam waar jy ook mag heengaan, en dit is jou eie hart wat jy moet verander, nie die stuk hemel waaronder jy jouself bevind. Ek stem in ‘n sekere mate met hom saam. Dis nie geneog om net na ‘n nuwe plek te gaan en te dink dat dit op een of ander wonderbaarlike wyse van jou ‘n nuwe mens gaan maak nie.
Maar om alleen na ‘n nuwe land te gaan plaas mens tog in ‘n posisie waar jy jouself nie meer knus in jou konteks en jou goeie ou bekende dinge kan toedraai nie. Jy kan tog nie argumenteer dat dit jou omstandighede se skuld is dat jy ‘n bietjie van ‘n peasant is, wanneer jou huidige omstandighede in alle opsigte van die voriges verskil nie. Onder hierdie nuwe stuk van die hemel het jy ‘n kans om jouself ietwat duideliker afgeëts te sien as wat vroeër die geval was. Jy kan die swak plekke beter sien, soos op ‘n x-straal wat ‘n mens teen ‘n lamp hou.
Natuurlik is dit nie altyd plesierig om so met ‘n mens se onvolmaaktheid gekonfronteer te word nie. Daarom, dink ek, wat die begeerte bly om maar liewer net terug te gaan na die ou bekende plekke.
Maar hierdie blik op ‘n mens se onvolmaaktheid is ook iets kosbaars. Dit plaas jou in ‘n posisie waar die Here soveel makliker vir jou die swak plekkies en die vrot plekkies en die plekkies waar die sonde homself soos ‘n geslepe klein spinnekoppie in ‘n hoekie toegespin het en gedag het jy sal hom nooit daar kan raaksien nie, kan wys. Die harde matrassie en die woonstelletjie waar geen sonlig inkom nie en die bedompige oggende waarop die geelstof uit Sjina modder in jou keel kom lê en die yskoue skrikwekkende oomblikke waar die kassier in die E-mart skielik met jou in Koreaans begin raas en jy’t geen idee wat jy nou verkeerd gedoen het nie? Dit alles word kosbare dinge waarmee jy nader aan die Here kan kom en meer op Hom kan vertrou.
Die begeerte om om te vlieg en terug te kom na die bekendheid moet dus maar net ‘n begeerte bly. Vir nou staan ek eers ‘n rukkie alleen onder ‘n nuwe stuk van die hemelruim.
Liefde en soentjies,
Katrina
P.S. Ek vermoed daardie laaste sin was tot ‘n irriterende mate digterlik. Vergewe my, geliefdes.
P.P.S. Ek skryf binnekort nog briewe oor die fassinerende fort, die lekker kos, my plesierige kollegas, my snaakse leerders en die vriendelike gemeente waar alles uitstekend is behalwe dat ek die nare vermoede het dat die dominee ‘n bietjie in tale probeer praat het. Ek hoop maar dit was net Koreaans…
Hallo Katrina, sommer lekker om van jou te hoor. Baie sterkte vir die tyd in Korea. Ek glo dat jy interessante dinge sal beleef. Sien uit na jou volgende ‘update’. Liefdegroete Ike
Geniet daardie stuk hemelruim en verlang na Afrika se son.
Katrina, dit was nou heerlike leesstof. Sien uit na jou volgende aflewering. Jy gaan lewenslange vriende daar maak met ‘n ander perspektief, dit is kosbaar.