‘n Ph.D in asblikleegmaak (of: hoe om te keer dat ‘n Ahjeossi jou afslag)

Ek woon in ‘n woonstelblok saam met ongeveer 70 ander siele. Buiten vir een van my kollegas, wat op die vloer onder myne woon, het ek nog geen van my bure leer ken nie. Ek hoor hulle soms in die gang verbygaan, of neem saam met hulle die hysbak. Mens gesels egter natuurlik nie in hysbakke nie, en oor die algemeen gesels Koreane nie graag met vreemde mense nie. Veral nie as daardie vreemde persoon voor die hand liggend ‘n buitelander is en dus ‘n onsigbare waarskuwing om haar nek dra nie.

Die waarskuwing lees: Met My Sal Jy Moet Engels Praat.

Daarvoor is g’n Koreaan lus as hy of sy net gou in pantoffels afstap om ‘n toebie en ‘n kannetjie Milkis by die kafee te gaan koop nie.

Ek verstaan dit dus heeltemal as my bure sommer diékant toe kyk soos ‘n hond wat wors gesteel het en soos ‘n pyl uit ‘n boog wegskiet die oomblik as die hysbak se deure oopglip.

Daar is egter een van my bure wat wel met my oogkontak maak, daar waar hy wydsbeen op die trappie voor ons woonstelgebou ‘n sigaretjie sit en rook.

Net, hy’s nie my buurman nie.

Hy is die Ahjeossi.

Dit word ook soms ahjussi gespel, en mens spreek dit adjôsjie uit. Dit beteken iets soos ‘oom’, maar jy sal dit nie vir jou pa se broer of vir die man wat met jou tante getroud is sê nie. Dis meer vir ouer mans wat nie jou bloedverwant is nie. Dis ook effens beledigend om ‘n man wat duidelik nog jonk is ahjeossi te noem. ‘n Kind sal dus nie sommer ‘n jongman ahjeossi noem soos ‘n Afrikaanse kind sal oom sê nie.

Die ahjeossi van ons woonstelblok lyk nie ‘n dag ouer as dertig nie, maar ek het al ‘n bietjie ondervinding daarin om Koreane se ouderdomme te raai. Dis alles in die kleredrag en in die optrede. G’n jongman wat werklik dertig jaar oud is sal in waterstewels in ‘n donkerblou wessie voor ‘n woonstelgebou sit en rook, terwyl hy almal wat verbygaan ewe parmantig in die oog kyk nie. ‘n Regte ahjeossi sal straks verbykom en hom iets leer wat hy nie graag wou geweet het nie.

Die man wat soggens voor my woonstelgebou sit en rook is egter nie net ‘n ahjeossi nie. Hy is ‘n Ahjeossi.

Elke woonstelgebou in Korea het een. Die Ahjeossi (let op die hoofletter) word van die gewone bruin ahjeossi onderskei deur die feit dat hy regtig vir jou kan sê wat jy moet doen. Sien, enige wilde ahjeossi op straat sal vir jou kan en wil sê wat jy moet doen, maar ‘n Ahjeossi het die gebouregulasies, die eienaar van die gebou, die wet oor verwydering van vullis en straks die hele gewig van die Suid-Koreaanse regering aan sy kant. Die Ahjeossi is suiwere mag en charisma, verpak in die klein maar lenige liggaam van ‘n Koreaanse man wat in die sestiger- en sewentigerjare gebore is.

Ek ken dus die Ahjeossi van my gebou, en ek weet hy ken my ook.

Dit is ‘n senutergende gedagte. Veral as dit laat op ‘n Sondagmiddag is en ek het nog nie my asblik gaan leegmaak nie.

Asblik leegmaak in Korea is nie vir sissies nie. ‘n Mens moet jou verstand helder hou, jou reflekse vinnig en jou pet laag oor jou oë sodat jy effens moeiliker is om uit te ken op die kringtelevisie se opname.

Sien, Korea is taamlik behep met die hele idee van herwinning. Alles moontlik moet herwin word. Daar is aparte afdelings vir papier, plastiek, viniel, blikkies, bottels, hout en polistrien. Dan is daar ook sulke klein geel sakkies wat mens by die kafee koop waarin jy jou kosafval moet sit. Al die geel sakkies kom in ‘n balie wat die Ahjeossi vir ons uitsit en bewaar jou siel as jy jou kosafval op die verkeerde dag in daardie balie wil kom sit. Laastens is daar groter liggroen sakke wat ‘n mens ook by die kafee kan koop, maar wat ook as plastieksakke by die supermarkte gebruik word. Dit is vir algemene afval, dit wil sê al die dinge wat nie papier, plastiek, viniel, blikkies, bottles, hout, polistrien of kosafval is nie.

As ek dit nou so uiteensit lyk dit heel eenvoudig, nie waar nie?

‘n Vinnige toetsie, dus.

Jy het sopas klaar aandete geëet. Dit het bestaan uit geroerbraaide groente (uie, Sjinese kool, ‘n paar wortels, sprietuie), “cup ramyeon” en ‘n eier (gebraai en bedien met die spesiale eiersojasous wat hulle hier het – heerlik geurig!). Daarby het jy ‘n botteltjie vrugtesap gedrink (lemoensap, om presies te wees). Dit is nou tyd dat jy jou vullis in die regte afdelings sorteer. Die uie- en wortelskille asook die eierdoppe gooi jy in jou geel kosafvalsakkie, die noedel-houer sorteer jy in by papier, die plastiekkie waarin die noedels toegedraai was kom natuurlik by plastiek en die houtstokkies waarmee jy geëet het natuurlik by hout. Die botteltjie waarin die lemoensap was gooi jy ook saam met die plastiekkie weg. Reg?

Verkeerd.

Iewers in die skaduwees agter jou ruik jy ‘n rokersasem. Jy hoor die kraak-kraak van gomlastieksole op plaveisel. ‘n Stem sê “Tsjogijô…” vlak agter jou regterskouer. Dis nou as jy gelukkig is en dis jou eerste oortreding. Anders sê die Ahjeossi dalk sommer vir jou “yah” en dan weet jy hier kom ‘n neukery.

Wat jy moes gedoen het, is om slegs die wortelskille in die geel sakke te sit. Uieskille en eierdoppe kom in algemene afval. Die noedel-houer kom soms by papier en soms by plastiek, dit hang af presies watse soort houer dit is. Die etiket om jou vrugtesapbottel moes jy versigtig afgestroop en dit, saam met die noedelhouer se plastiekkie ook in die vinieldrom gegooi het. Dan moes jy ook eers die vrugtesapbottel uitgespoel het en verkieslik platgetrap het voordat jy hom in die plastiekdrom gooi. Plastiek is net harde plastiek, viniel is al daardie ritselrige goedjies waarin kos en drie bordpenne van Daiso en die makrolletjie wat ‘n leerder vir jou present gegee het, toegedraai was.

En die hout, sê jy met trane in jou oë, die hout kom tog sekerlik by hout?

Nee, jou arme onskuldige esel. Daar is geen aparte afdeling vir hout nie, die stokkies word by die gewone afval ingesorteer. Gaan maar gou terug en doen dit. Wees maar net bly dat jy nie soos ek is, wat die inligtingsblaadjie op die internet verkeerd gelees het en toe vrugteloos onder by die vullisdromme rondgesoek het vir die een waarin mens hout moet weggooi nie. Ek het dit natuurlik nie gevind nie, en toe vir etlike weke ‘n klein bergie gebruikte stokkies onder my wasbak vergader tot ek weer gaan opsoek het en besef het dat ek dit maar net in die algemene vullissak moes gegooi het.

Senutergend, nie waar nie?

Dis waarom ek altyd wag tot dit donker is op ‘n Sondagaand voor ek my asblik vir die week gaan leegmaak. Ek sluip dan soos ‘n huurmoordenaar, met my pet laag oor my oë en my masker oor my neus, af na die grondvloer. My vullis is reeds gesorteer voordat ek dit versigtig, in lae, in my vullissakke gepak het. Die geel kossakkies en die liggroen algemene afvalsak is diggeknoop en gereed vir aksie. Dis ‘n in-en-uit operasie hierdie, no retreat no surrender.

Buite die voordeur draai ek regs en sien die ry asblikkie in die maanlig afgeëts. Ek het vroeg in my eerste week al in die verbygaan ‘n foto van die vullisarea geneem, en dit getrou soos ‘n kaart van ‘n vyandlike gebied bestudeer. Selfs in die donker weet ek presies waar elke asblik staan.

Ek gooi eers my kosvullis in die balie. Die suur reuk van iemand anders se ou kimchi damp in my neus op.

Volgende is dit die viniel, dan karton en laastens my waterbottels in die plastiekdromme. Die plastiekdromme is gewoonlik vol, en dit is ‘n gevaarlike spel om ‘n piramiede met leë, glibberige plastiekbottels te bou. Die algemene vullissak sit ek langs die pilaar neer.

Halfpad oppad terug deur toe besef ek iets verskrikliks. Een van die dose wat ek nou net in die kartondrom gegooi het, was oorspronklik ‘n pakkie wat by my woonstel afgelewer is. My naam en woonstelnommer is daarop. As daar net miskien iets verkeerd is met die vullis wat ek nou net weggegooi het, dan is dit so goed asof ek my besigheidskaartjie gelos het sodat onse Ahjeossi presies kan weet waar om my te kry en my die leviete voor te lees.

Vinnig omsit dus. Ek grawe die kartondoos uit, ruk die plakker met my naam en adres daarop af, en skeur dit in fyn stukkies voor ek dit indie vinieldrom gooi.

Dan kan ek uiteindelik terugsluip na my woonstel. Op die trap ontmoet ek een van my bure, ook in ‘n pet en ‘n masker met ‘n sak vullis oor haar arm. Ons groet mekaar met ‘n stilswyende, medelydende knik.

Nog artikels

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.