jongleer

“We have cast our lot with the juggler.”

– Nicholas Carr, The Shallows

die graadagts doen ‘n toespraak
voorbereid
oor die mors, miskien sogenaamde, van tyd op die internet
verontwaardig
en heel eiegeregtig want watter aap
kan nou nie sien dat die antwoord
op ‘n hele wêreld se vrae
net vir vat slegs ‘n split-van-split sekonde weg
beter is as die ou vertraagde boek?

die hyperlinks vonkel in hul oë
hulle is stuk-stuk in diverse
gigabytes op die internet grootgemaak
elkeen getrou vanoggend, met ritalin gesluk,
in iets wat vaagweg met ‘n koherente
gedagtegang ooreenstem
saamgeflans

aan hulle is die lot nie om
waarheid te bekom, netjies ingeleg
in die swart en wit stilte
van ‘n boek se blaaie nie
maar flitsend, vlietend, vreeslik
in die algoritme se spelende hande

die jongleurs van ouds, die wyse gekke,
het ten minste geweet
dat met balletjies en lemoene en dolke en vuur
daarmee kan mens speel
maar dat waarheid
onversigtig aangeraak
die wêreld sal laat brand

(Image credit: Calvert – J. Willis Sayre Collection of Theatrical Photographs, Public Domain, https://commons.wikimedia.org/w/index.php?curid=80742035)

Nog artikels

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.