Aliens praat nie Afrikaans nie

Daar is geen verblindende lig, geen oorverdowende dreuning, geen gevoel van eienaardige disoriëntasie nie.
Jack van der Merwe is maar net een oomblik nog met sy fiets op pad na die Totalgarage om ‘n draairoomys te koop, en die volgende maak hy sy oë op ‘n vreemde plek oop.
Daar is ‘n sagte gepiep van masjiene, en haastige voetstappe wat heen en weer beweeg. Hy lê op sy rug, maar hy kan sien dat daar ‘n afskorting van blou gordyne om die bed is. Dit ruik na hospitaal.
Was hy in ‘n ongeluk? Hy probeer dink, maar die laaste ding wat hy onthou is dat hy skerp moes uitswenk vir ‘n skerp klip in die grondpad agter die petrolstasie. Hy voel geen pyn nie, en pyn moet daar tog ongetwyfeld wees as hy in die hospitaal beland het.
Toe hy met ‘n frons probeer regop sit vind hy dat iets hom op die bed vashou. Hy skud sy skouers tot die laken wat tot by sy ken opgetrek was wegval. Om elkeen van sy polse is daar ‘n deursigtige rooi bibbering in die lug. Sy enkels is nog deur die laken bedek, maar hy kan dieselfde weerstand voel toe hy sy voete probeer beweeg.
Op daaride oomblik word die blou gordyne oopgeskuif en iemand in ‘n netjiese wit jassie kom binne. Dit lyk vaagweg soos ‘n mens – daar is twee bene in ‘n nousluitende swart broek en twee arms waarmee hy ‘n soort elektriese aanknipbord vashou en ‘n kop. Maar die gevaarte se vel is babapoeier blou en sy kop lyk soos ‘n NG kerk se kombuismop wat sedert die tagtigerjare nooit vervang is nie. Grys slierte wat soos hare lyk groei in groewe van sy hoë voorkop af weg en hang agter in sy nek in ‘n eendstert. Sy mond is groot en sy lippe bessieblou, maar sy oë lyk nie vir Jack besonder kwaai nie. Dit is seker maar al wat keer dat hy nie direk histeries raak nie.
“Eh…hallo?”
“Skresth frobeltrks,” sê die wese, of iets wat ongeveer dieselfde klink. Sy stem is hoog, en agter sy bewegende lippe kan Jack ‘n stel skerp tande sien.
Goeiemôre,” sê ‘n blikkerige stemmetjie in Jack se oor. Hy kan voel dat daar iets binne sy oor sit, soos ‘n oorfoontjie of ‘n wattepluisie.
“Asdh tyyty frobeltrkse?” gaan die wese verder.
Is jy gesond?”
“Eh…ek voel heeltemal goed, dankie.”
“Dssd! Thre dhiaoshd tyyty lhasoihg neihoih oihoih. Hhasd shrek taff-taff niweoihwer, graa.”
Bonus! Ons innovasie sal luister na die stem van tolke. Hy het my alles wat ek gesê het intyds gegee.
“Ek veronderstel dat dit gaaf is,” sê Jack versigtig.
Hy probeer ongemerk weer aan die bande om sy polse wikkel. Maak nie saak hoe hy sy hand rondrol of hoe hard hy beur nie, hy kan nêrens ‘n swak plekkie voel meegee nie.
Die alien praat nie een stryk deur. Aan sy stemtoon, en aan die manier wat hy op sy voete wieg, raai Jack dat hy vreeslik opgewonde is oor iets.
Dan kom die blikstem weer by.
Praat u wat is oor ‘n onbekende jong wêreld, maar ek is bly u ook buitegewoon is met ons gevorderde tegnologie. O, dit is die kleinste dag in wikkel! Ons probeer al honderde jare oproepe maak, maar u is die eerste persoon op aarde wat onmiddellik weens ‘n elektriese skok sterf! ‘n Gelukkige dag! Laastens kan ons alle vrae oor u uitheemse spesies bespreek, sodat dit nie in u bespreking opgeneem sal word nie.
“Elektriese skok, sê jy?”
Die wese plak sy aanknipbord op die voetenent van die bed neer, sy oë wyd. Dan gee hy ‘n opgewonde gilletjie en klap sy gewebde hande teenmekaar.
“Hoor hier, dude.” Jack gee ‘n laaste, benoude pluk aan die bande. Daar gebeur niks nie. “Ek verstaan net mooi presie niks van wat jy sê nie? Wie’s jy? Wat maak ek hier? Jy moes dalk hierdie gadget wat in my oor nonsens praat ‘n bietjie beter getoets het, want ek dink nie dit werk baie goed nie.”
Mopkop se oë rek nog wyer, as so iets moontlik is, en hy trek sy asem weer skerp in. Dit lyk soos Jack se kleinsussie, as sy op Kersoggend ‘n barbiepop onder die boom gewaar. Behalwe dat sy nog nooit die vermoë gehad het om haar hare van pure opgewondenheid te laat regop staan nie. Die grys slierte staan soos ‘n ystervark se penne.
Waarheid? Waarheid?” sê die blikstem toonloos. “Wonderlike dag!
“Nee, nee, wat ook al jy dink dit is, jy verstaan my verkeerd.”
Maar dit lyk asof dit die wese net tot groter opgewondenheid en vreugde aanspoor. Met sy gewebde vingertjies druk hy ‘n paar knoppies op die paneel langs Jack se bed. Die bed tiep, en Jack bevind hom op die naat van sy rug.
Die alien loop kwetterend na die blink kabinetjie in die hoek van die afskorting, trek die boonste laai oop en kom met ‘n skinkbord vol blinkgoedjies terug. Skalpels, spuite en ‘n verskeidenheid van ander skerp dinge glinster boosaardig daarop.
Die wese tel ‘n groterige skalpel op. Jack ruk homself so ver as wat die bande toelaat uit die pad uit, sy oë op die skalpel wat die wese nou na sy kop mik.
“Nee! Lossit uit, jou peasant! Jy vat nie aan my nie!”
Ja, die ore!” sê die blikstem.
“Jy los my ore uit, of jy sal die dag berou wat jy ooit ‘n van der Merwe ontmoet het!”
“Hansie!” sê ‘n nuwe stem.
‘n Man in ‘n gekreukelde kakiehemp staan by die gordyne. Sy hare is baie wild, sy oë bloedbelope en sy neus skeef, asof dit eens op ‘n tyd baie lelik gebreek was, maar Jack het nog nooit in sy lewe ‘n mooier ding gesien nie.
“Hansie!” sê die man weer, vieserig. “Srhoiwhet tytyy hadash?”
Met sy wilde gespook om van die lem af weg te bly het die oorfoontjie uitgeval, en daar is nou geen blikstem wat vir Jack die vreemde woorde kan probeer vertaal nie.
Die alien sit sy skalpel neer en gaan na die man toe. Hy verduidelik skynbaar wat aan die gang is, want hy beduie kort-kort na Jack, dan weer na die aanknipbord en na die skinbord vol martelinstrumente.
Die man, wat aan die begin nogal erg gefrons het, lyk asof hy stadigaan al hoe meer geamuseerd raak. Uiteindelik, toe die wese sy tirade met ‘n finale gebaar na Jack afgesluit het, kom hy na Jack se bed en tel die dingetjie wat in sy oor was van die voer af op.
Toe gaan sit hy op die staalbankie langs die bed, knyp sy neus tussen sy duim en sy voorvinger vas en lag tot hy dieprooi in die gesig is.
“Ekskuus,” sê hy toe vir Jack. “Ekskuus, man. Wat is jou naam?”
“Jack…van der Merwe, oom.”
“Ek is Melt Wienand, die kaptein van hierdie skip. Ek vra nederig om verskoning, hoor? Ou Hansie het gedag hy laat my bietjie slaap – ons het ‘n slegte onderonsie met ‘n paar ruimterowers gehad gisternag – en toe probeer hy die Universêle Tolk wat ek die laaste tyd aan gewerk het. Hy’t nie verstaan dat die ding nog so vyftig jaar of wat se ontwikkeling nodig het voor hy nuttig sal wees nie, indien ooit.”
Melt Wienand se skouers skud weer soos hy lag.
“Ek veronderstel dat julle die vreeslikste klomp nonsens van mekaar verstaan het.”
“Vreeslik, inderdaad,” sê Jack met ‘n rilling.
“Soos hy verduidelik het hy gemeen dat jy graag jou ore vir die wetenskap wil skenk.” Melt proes weer. “Grietjies, die aliens tog. Nooit ‘n rustige oomblik nie. Ou Hansie sal een-twee-drie sy eie ore vir die wetenskap skenk as ek hom dit sou toelaat.”
“Is sy naam regtig Hansie?”
“Nee, nee. Sy moeder het hom Hasanwerohkgoidhqqwpo genoem, maar ons noem hom sommer Hansie. Dis vinniger.”
Die alien genaamd Hansie lig ‘n huiwerige hand toe hy sy name hoor. Hy lyk maar bra beteuterd waar hy by die voet van die bed staan, sy grys hare plat op sy kop getrek.
“En hy’s…’n alien?”
“Merkwaardig, né? Maar, ons wil jou nie te lank hier hou nie. Jou ouers kan dalk bekommerd raak. Ek het eintlik vir Hansie verbied om weer ‘n mens te probeer vang – hulle raak gewoonlik heeltemal die kluts kwyt en dan moet ons hulle eers na ‘n kopdokter by die basis vat om hulle geheueverlies te gee. Maar jy lyk vir my nog heeltemal by jou positiewe. Dit sou vreeslik gaaf wees as jy net ‘n paar van Hansie se vrae wil antwoord – hy het nog nooit ‘n compos mentis mens in die hande kon kry om vrae te stel nie.”
“Oom is tog ‘n mens?”
“Ja, maar ek het lankal die kluts kwytgeraak,” Melt Wienand knipoog. “Eintlik het ek tussen hulle grootgeword, en hulle beskou my nie as ‘n behoorlike mens nie. Is seker ook nie een nie. Jy is natuurlik onder geen verpligting nie, maar dat sal absoluut Hansie se jaar maak.”
Jack kyk weer na die wese, met sy nuuskierige pers oë en sy gewebde handjies.
“Ek sal graag,” sê hy toe. “As oom sal tolk, en hy sy pote van my ore sal afhou. En solank ek vir hom ook ‘n paar vrae mag vra!

Nog artikels

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.